Ruby Rouge is een van daardie kunstenaars wat jou beïndruk wanneer jy haar vir die eerste keer hoor sing. Daar is ’n hartroerende opregtheid en meesleurende melodie in haar stem wat jou aangryp en by jou bly lank nadat sy klaar gesing het.
Dit is dan ook hierdie eienskappe wat die eerste enkelsnitvrystelling vanaf haar debuut-album so onvergeetlik maak.
Gaining Perspective is ’n ineteressante popmusiek- en klavierverwerking wat selfs die kritieste oor sal beïndruk. Hierdie ballade, uit haar eie pen, gaan oor selfaanvaarding en is ’n tema waarby almal sal aanklank vind. “Die liedjie gaan daaroor om jouself te aanvaar ten spyte van wat ander mense se opinies is,” verklap die talentvolle musikant en liedjieskrywer oor haar eerste vrystelling.
“Ek het altyd baie ongemaklik gevoel in my eie vel tot op die dag wat ek genoeg gehad het en ’n liedjie geskryf het daaroor om net jouself te wees en sterk te staan wanneer diegene rondom jou nie wil hê dat jy gelukkig en getrou aan jouself moet wees nie. Gaining Perspective lê my na aan die hart en het my gehelp om myself te aanvaar vir wie ek is en wil wees. Wanneer ’n mens so ’n sterk verbintenis met ’n liedjie het, kan jy nie anders as om dit te sing nie!”
Die sanger is tans besig om haar album te finaliseer en lys dit as een van die hoogtepunte van haar loopbaan sover. “Ek hoop om vir gehore iets te gee waarmee hulle sal kan vereenselwig, waarop hulle kan dans en kan herinneringe maak. Ek wil hê hulle moet ervaar wat ek doen wanneer ek na die musiek luister waarvoor ek lief is,” deel sy. ’n Musiekvideo word ook vir die enkelsnit beplan en sy geniet dit vreeslik baie om deel te wees van die proses.
Ruby Rouge beskryf haarself as ’n ‘Jozi-meisie’ en vertel dat sy al sing vir solank as wat sy kan onthou. “My ma het ’n vriend gehad wat ’n opnameateljee besit het en ek was mal daaroor om daar binne te sit en kyk en luister wat hulle doen,” sê die sanger.
Sy tree nou al vir vyf jaar professioneel op en het baie oor die bedryf en die uitdagings geleer gedurende hierdie tyd. Wanneer sy nie sing nie, werk sy as grimeerkunstenaar, fotograaf en sosialmediainhoudsanaliseerder om haar inkomste aan te vul en uiting te gee aan haar kreatiwiteit.
Die kunstenaar hou van ’n wye verskeidenheid musiek en is opgewonde oor die moontlikheid om saam met ander suksesvolle kunstenaars te werk. Sy sê: “Ek bewonder so baie sangers vir so baie verskillende redes en om saam met enigeen van hulle te kan werk in die toekoms, sal vir my wonderlik wees. My grootste musiekinvloed is beslis my ma, want sy het my altyd aangemoedig om verskillende musiek- en sangstyle te probeer.”
As jy haar vra waar sy die inspirasie vir haar lirieke vandaan kry, antwoord sy dat dit soms van persoonlike ervarings kom, maar dat enigiets haar verbeelding kan prikkel – van ’n doodgewone dag tot ’n gruwelprent of warm bad. Alhoewel sy aan epilepsie en bipolêre gemoedsteurnis ly, het sy nog nooit toegelaat dat dit in die pad staan van haar doelwitte nie.
Daar is nog baie ander drome en planne wat sy graag wil verwesenlik, wat nog liedjies en albums insluit, maar vir nou fokus sy eers op die geleenthede voor haar.
Gaining Perspective het ’n opbouende deuntjie wat verweef is met ander sterk musiekelemente en ’n indrukwekkende stem wat nie net vir Ruby Rouge ’n permanente plek in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers gaan losslaan nie, maar ook op die treffersparades van die land se grootste radiostasies.
Ongelukkig is daar nog nie ‘n musiekvideo wat ek met julle kon deel nie.
_____________
SA-Radio.com
To list your event, concert or gig, contact SA-Radio.com
To receive our gig guide, Subscribe here FREE!