Riana Nel se derde Afrikaanse album is uit

Riana Nel se derde Afrikaanse album, “Jy sal weet” wat vroeër vandeesmaand bekend gestel is, verstom weereens met meesleurende melodieë en betekenisvolle lirieke wat beslis menige hartsnare gaan roer. Dit volg kort op die ongekende sukses van haar vorige Afrikaanse albums, “Die Moeite Werd” waarmee sy in 2011 die mark betree het en “Die Regte Tyd” wat in 2015 as die topverkoper album van die jaar by die gesogte SAMA-toekennings aangewys is. Sy het egter reeds vanaf ‘n baie jong ouderdom met haar Gospel albums, “Oopmond”, “The Cure” en “Someone with skin” binne die internasionale mark bekendheid verwerf.

Dié boorling van Namibië wat self vir die skryf van byna al die liedjies op hierdie album verantwoordelik was, het deur die jare heen vir haar persoonlike, byna introspektiewe skryfstyl bekend geword. “Jy sal weet” waaraan sy twee jaar lank geskaaf het, is beslis geen uitsondering nie, want sy is intussen getroud en het ook onlangs vir die eerste keer ma geword. Baie van die opnames vir die album het boonop plaasgevind terwyl sy nog swanger was wat noodgedwonge ‘n besondere emosionele verwantskap aan die inhoud van die liedjies verleen het.

Die titelsnit, “Jy sal weet” wat beloof om nog ‘n groot treffer onder enkellopendes te word, dien as bemoediging vir diegene wat nog nie hulle sielsgenoot gevind het nie. “Skouers”, haar Afrikaanse vertaling en vertolking van Joel en Luke Smallbone van For King & Country se groot treffer, “Shoulders” is beslis een van die grootste verrassings op die album. Ander potensiële treffers sluit in “Selfde bed”, “Nooit te laat”, “Tot die einde”, “As jy dit bedoel” en “Might give in”.

Haar vokale vertolking van Phil Hanseroth se “The Story” sal jou sprakeloos laat. Die album bevat verder ook met baie spesiale liedjies soos “Sal by jou staan” en “The Best of Me” wat onderskeidelik vir haar pa en haar eersteling, Tristian geskryf is. ‘n Gospel medley bestaande uit nuwe verwerkings van tradisionele gunstelinge wat hierdie album afsluit, herinner baie sterk aan Riana se vroeë gospel loopbaan.

“Jy sal weet” spog oudergewoonte nie net met inspirerende lirieke nie, maar ook met meesterlike stemproduksie, pogrammering en instrumentale verwerkings deur van ons land se voorste musikante soos Juan Floors Oosthuizen, Danny Smoke, Stefan Swart en Ewald Jansen van Rensburg. Die byna skilderagtige afwerkings van die unieke album omslag wat Riana self ontwerp het, herinner luisteraars immers opnuut daaraan dat dit ‘n kunstenaar se siel is wat hierin opgesluit lê.

Alhoewel hierdie album grootliks die suksesresep van haar vorige twee Afrikaanse albums volg waarin duidelike elemente van pop- en countrymusiek te bespeur was, getuig die inhoud tog van persoonlike groei. Daar is ‘n nuutgevonde volwassenheid in Riana se werk aanwesig wat waarskynlik toegeskryf kan word aan die wete dat haar hart uiteindelik na soveel jare nou sy lê gekry het. “Jy sal weet” is ongetwyfeld ‘n album waarmee enigeen sal kan identifiseer, ongeag of jy nou al die liefde van jou lewe ontmoet het al dan nie.

Loer hier onder na die treffer van haar:- Riana Nel – Jy Sal Weet (Lirieke)

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.